Tuis Kontak Ons Web uitleg
Kategorie:
Sleutelwoord:
 Fakulteit Tuisblad
 Departement Tuisblad
  Kursusse
  Personeel
  Navorsing
  Publikasies
  Kontak ons
  Meer oor Aktuariele Wetenskap
  Huidige Aktuariele Studente
  Skakels
  Tegniese Verslae
Druk
Meer oor Aktuariele Wetenskap

 

Die Departement Wiskundige Statistiek en Aktuariële Wetenskap bied met trots die voltydse graad B.Sc. (Aktuariële Wetenskap) aan.  Hierdie graad sal gegradueerdes met die nodige vaardighede van die aktuariële assistent bemagtig in vandag se snelveranderende inligtingsera.

Ten spyte van die feit dat ons een van die oudste departemente by een van die oudste universiteite in Suid-Afrika is, is ons op hoogte van sake en steeds vindingryk.  Die aktuariële program by Kovsies is gelyktydig met die nuwe millennium ingelyf.  Dié program is nou deur sy groeipyne en word spoedig een van Kovsies se trotste produkte.  Die departement wy homself toe tot die hoogste standaarde – 'n kenmerk wat ook vereis word deur die nasionale professionele liggaam, die Suid-Afrikaanse Genootskap van Aktuarisse (ASSA), en sy internasionale vennoot, die Fakulteit en Instituut van Aktuarisse, VK.

Wat is 'n aktuaris?

Daar is soveel definisies vir die aktuariële professie as wat daar pogings tot 'n definisie is.  Hier is 'n paar van die beter definisies:

Fakulteit &Instituut van Aktuarisse, VK:

Aktuarisse pas finansiële en statistiese teorieë toe om werklike besigheidsprobleme op te los.  Hierdie besigheidsprobleme behels kenmerkend die analisering van toekomstige finansiële gebeure, veral wanneer die toekomstige paaiement, of die tyd wanneer dit betaal word, onseker is.  Die werk van verskeie aktuarisse mag beskou word as "risikobestuur" – deur  te bepaal hoe moontlik 'n gebeurtenis is en wat die kostes verbonde aan dit sal wees.

Aktuariële Genootskap van Suid-Afrika:

'n Aktuaris pas analitiese, statistiese en wiskundige vaardighede tot finansiële en besigheidsprobleme toe, veral dié wat onsekere toekomstige gebeure behels, soos te vinde in lewensversekering, algemene (korttermyn-) versekering, risikobestuur, mediese skemas, finansiering, beleggingswese, korporatiewe finansiering, bankwese, pensioenfondse en sosiale versekering [welsyn, padongelukke-fonds, ens.].  Dit ondersteun individue en besighede om hul toekoms te beveilig, met vertroue en teen 'n regverdige prys, in 'n alewig veranderende wêreld.

"Be an Actuary" – webtuiste:

Die toekoms is vol onsekerheid.  Sommige van die gebeure wat kan gebeur is onwenslik.  "Risiko" is die moontlikheid dat 'n onwenslike gebeurtenis plaasvind.  Aktuarisse is deskundiges in:

  • die evaluering van die moontlikheid van toekomstige gebeure,
  • die kreatiewe ontwerp van maniere om die moontlikheid van onwenslike gebeure te verminder,
  • die vermindering van die impak van onwenslike gebeure wat wel plaasvind.

Om eenvoudig op te som:  'n Aktuaris is 'n finansiële en wiskundige man/vrou van twaalf ambagte (en dertien gelukke!).  Hy/sy is dus die jan-van-alles wat poog om toekomstige finansiële risiko’s te oorkom en te matig.  Anders as ander finansiële beroepslui wat met die verlede werk, werk aktuarisse met die toekoms.  Jy mag dalk nou inspring en soos die Romeinse geleerde, Plinius (Gaius Plinius Secundas), verklaar: "In sulke kwessies is die enigste sekerheid dat niks seker is nie."

So, hoe werk aktuarisse met die toekoms (sonder die vanselfsprekende voordele om deur tyd te reis) ?  Aktuarisse benut die wetenskaplike konsep van waarskynlikheid om die moontlikheid te beraam of om die verwesenliking te modelleer van toekomstige risiko’s of onwenslike uitkomste.  Dit is nie 'n kristalbal vir die toekoms nie, maar dit laat aktuarisse wel toe om onsekerheid te meet.  Hierdeur kan aktuarisse dan die gemete hoeveelheid, wat risiko genoem word, bestuur.  Aktuariële beroepslui is dus risiko deskundiges wat nie net onsekerheid meet en analiseer nie, maar ook bestuur en die resultate interpreteer.

'n Beroemde aanhaling (waarvoor die VK professie baie lief is) beklemtoon die belangrikheid van veelsydigheid:

Frank Mitchell Redington:

As 'n professie is ons geskik om akkuraat, versigtig, konsekwent en beskeie te wees, en hierin lê ons sterkpunt;  maar as dit nie genoeg ruimte laat vir impuls en verbeelding nie, kan dit ook 'n swakpunt wees.  Die aktuaris wat slegs 'n aktuaris is, is nie 'n aktuaris nie.

Wat doen 'n aktuaris?

Weer eens is daar nie 'n eenvoudige antwoord nie.  Deurdat 'n aktuaris toegerus is met so 'n verskeidenheid van vaardighede, beteken dat sy/haar vaardighede oor 'n wye reeks van dissiplines en sektore beoefen kan word.

Aktuarisse word tradisioneel deur lewensversekeringsmaatskappye in diens geneem.  In Suid-Afrika is lewensversekeringsmaatskappye ook groot finansiële firmas.  Dit laat aktuarisse toe om by 'n tradisionele werkgewer hul verskeidenheid van vaardighede tot die volle te beoefen.  Baie van die groot versekeraars (lewens-, mediese en korttermyn-) het aktuarisse as HUB's (Hoof Uitvoerende Beamptes, CEO in Engels).

Beleggingshuise en banke erken wel aktuarisse en neem hulle in diens.  Aktuarisse as HUB's in hierdie sektor is nie algemeen nie, maar 'n nuwe neiging in die VSA is 'n HRB (CRO in Engels).  'n HRB is 'n Hoof Risiko Beampte en is meestal aktuarisse wat in finansiële risikobestuur spesialiseer.  HRB's kan in enige besigheidsektor in diens geneem word aangesien enige besigheid toeganklik is tot risiko’s en dus 'n risiko beroepspersoon benodig om dit doeltreffend te bestuur.

Kan ek 'n aktuaris wees?

Aktuarisse moet hul denke tot 'n reeks probleme rig.  Probleemoplossers is gewoonlik persone wat uitblink in Wiskunde en Natuur- en Skeikunde, aangesien hierdie twee vakke probleemoplossing toets en bevorder.  Probleemoplossing bestaan uit twee gedeeltes:  'n tegniese gedeelte (Wiskunde en Natuur- en Skeikunde) en 'n kreatiewe gedeelte.  Die kreatiewe gedeelte kan nie so maklik gemeet word soos die tegniese gedeelte nie, maar blootstelling tot veelvuldige omgewings (tale, musiek en ander buitemuurse aktiwiteite) bemagtig 'n persoon om 'n ryk verwysingsraamwerk te ontwikkel wat die vermoë insluit om verskillende en kreatiewe benaderings tot probleemoplossing te implementeer.

'n Studie deur die Universiteit van Pretoria wys dat onlangs gekwalifiseerde aktuarisse:

  •  'n onderskeiding vir Wiskunde HG in matriek verwerf het,
  • drie of vier ander HG onderskeidings verwerf het, en
  • betrokke was by 'n wye reeks buitemuurse aktiwiteite (sport, kultuur, ens.).

Dit wys ook dat kandidate van die top 5% van 'n matriekklas kom, waar die 5% nie net volgens akademiese prestasies gemeet word nie.

Studies (Toelatingsvereistes)

'n Voornemende student moet voldoen aan die toelatingsvereistes van die program, wat 'n vlak 7 vir Wiskunde is, asook 'n minimum TP-telling van 34.

Vrystellingsooreenkoms met die Fakulteit & Instituut van Aktuarisse, VK

Na die aflê van 'n honneursgraad in aktuariële wetenskap, sal 'n student steeds niks meer as 'n student wees nie.  Om 'n aktuaris te word (Genoot van die Fakulteit / Instituut van Aktuarisse - FIA / FFA, Genoot van die Aktuariële Genootskap van Suid-Afrika - FASSA, ens.), moet 'n mens by 'n professionele liggaam inskryf.  Die Suid-Afrikaanse professionele liggaam, ASSA, gebruik die kurrikulum van die Britse professionele liggaam, die Fakulteit / Instituut van Aktuarisse.  Slegs teen die "Specialist Application" (SA)-stadium van die eksamens, het ASSA sy eie vakinhoud.  Vanaf 2010 sal ASSA aan Suid-Afrikaanse studente die geleentheid bied om die volledige kwalifiseringsroete deur 'n trots Suid-Afrikaanse opleidingstelsel te onderneem.  Meer inligting hieroor kan gevind word by www.actuarialsociety.org.za.

Sekere universiteite, waarvan Kovsies een is, het 'n vrystellingsooreenkoms met die Fakulteit / Instituut om studente wat op 'n sekere standaard presteer toe te laat om vrystellings vir die "Core Technical" (CT)-reeks van vakke te kry.  Hierdie vrystellings stel gegradueerdes in staat om die volgende vlak van professionele vakke ("Core Application", "Specialist Technical" en "Specialist Application") direk voort te sit deur die Fakulteit / Instituut of deur nagraadse programme by die Suid-Afrikaanse universiteite wat vrystellings bied vir hoërorde vakke (Wits, Pretoria, UCT en Stellenbosch).

Die vrystellingsooreenkoms van nader:

Fakulteit & Instituut:                  UV

CT 1                                        ATW 246 *

CT 2                                        FBS 114, REK 114 & 124 **

CT 3                                        WKS 114, 124, 216, 226, 314, 334, 324 & 344 **

CT 4                                        ATW 306 *

CT 5                                        ATW 605 *

CT 6                                        ATW 316 & WKS 344 **

CT 7                                        EKN 114,124,214 & 224 **

CT 8                                        ATW 608 *

* Hierdie vakke is kern aktuariële vakke.  Die vrystellingspunt word bepaal deur 'n onafhanklike eksaminator wat goedgekeur is deur ASSA en die Fakulteit / Instituut.  Suksesvolle kandidate behels gewoonlik die top 25-40% van die klas.

** Hierdie vakke is nie-kern aktuariële vakke.  Die vrystellingspunte werk soos volg:

FBS 108, REK 114 & 124 - 'n Gemiddelde punt van 65%, waarvan FBS 114 'n 70%-gedeelte bydra en REK 114 &124 'n 30%-gedeelte bydra.  Neem asseblief kennis dat 'n subminimum van 60% per module verkry moet word.

WKS 114, 124, 216, 226, 314, 334, 324 & 344 - 'n Gemiddelde punt van 65% per jaar oor die drie jaar waarin Wiskundige Statistiek bestudeer word.  Neem asseblief kennis dat 'n subminimum van 60% per module verkry moet word, behalwe vir WKS 344 waarvoor die subminimum 65% is.

EKN 114,124,214 & 224 - 'n Gemiddelde punt van 65% per jaar oor die twee jaar waarin Ekonomie bestudeer word.  Neem asseblief kennis dat 'n subminimum van 60% per module verkry moet word.

ATW 316 & WKS 344 - 'n Gemiddelde punt van 65% in ATW 316 en WKS 344 met 'n subminimum van 60% vir ATW 316 (eksamenpunt alleenlik).  Let daarop dat WKS 344 ook geld vir vrystelling vir CT 3.  Gevolglik geld die subminimum van 65% vir WKS 344 ook hier.

N.B.:  Die UV kan slegs vrystellings voorstel of aanbeveel.  Finale goedkeuring word slegs toegestaan deur die Opvoedkundige Raad van die Instituut / Fakulteit van Aktuarisse, VK.

Stuurkomitee

As 'n student by Kovsies kan jy verseker wees dat ons program aan die hoogste standaarde voldoen.  Dit is nie net ons doel nie, maar dit word ook vereis deur beide ASSA en die Fakulteit & Instituut van Aktuarisse.  As deel van hierdie vereistes het Kovsies 'n Stuurkomitee (SK) wat bestaan uit gekwalifiseerde Suid-Afrikaanse en internasionale aktuarisse.  Die oorblywende lede bestaan uit die twee programdirekteure wat die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe en die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe verteenwoordig, asook die departementele voorsitter van die Departement Wiskundige Statistiek en Aktuariële Wetenskap.

Verdere Navrae

Kontak ons gerus sou jy enige verdere vrae rondom 'n aktuariële loopbaan hê.  Ons doel is om jou te help met 'n regte loopbaankeuse.

Vir enige vrae rondom die aktuariële loopbaan buite die universiteitskonteks, raadpleeg gerus die waardevolle "FAQ"-blad van ASSA.

 

Hoofnuus

Nuus

Nuusargief
Publikasies
Nuusbriewe
Kamera op Kampus
Darwin-potgooie

Kalender

Eksamenrooster
Kunstedagboek
MBA Gassprekers
Semesterdatums
Gradeplegtigheid
Kopiereg © 2010, Terme en voorwaardes , Privaatheidsbeleid . Ontwikkel deur IKT-dienste .0.25 sec